Leeg    
 

Kategorie
Inligting alfabeties - kyk ook na die boonste keuselys
Kenweb Oplossings » Antwoorde

Antwoorde

Wenke is welkom! So ook vrae wat nie in die Gids beantwoord word nie. Klik "Stuur 'n boodskap".

Effektiewe soek op Kenweb se webwerf!

Wenk 1

Gebruik www.google.com en soek site:kenweb.co.za soekstring. Vervang “soekstring” met die woorde waarna jy soek. Voorbeeld: site:kenweb.co.za druk vakgidse uit.

Wenk 2

Gaan na die voordeur van die webwerf. Druk Ctrl-F en gee die soekstring.

Na graad 9? Kan julle 'n verskaffer aanbeveel?

Ongelukkig is ons nie op hoogte van die kwaliteit diens wat ander verskaffers lewer nie. Tuisonderwysposkringe is waarskynlik die beste plek om te vra. Kyk by www.tuisskolers.org.

Kansellering van bestelling / faktuur?

Indien u faktuur verkeerde inhoud het, kan u dit net ignoreer en 'n nuwe een maak.

Hoe verander ek my persoonlike besonderhede soos bv eposadres?

  1. Meld aan (login) op ons webwerf.
  2. Klik regs bo op “Verander my besonderhede”.
  3. Maak die veranderings.
  4. Voltooi die Misbruikbeskermingskarakters.
  5. Klik op Stuur.

Net in Afrikaans! Not in English :(

Ongelukkig is ons produkte net in Afrikaans beskikbaar. Kyk gerus by www.tuisskolers.org vir Engelse verskaffers.

Het Kenweb hulpmiddels vir graad R (graad 0)?

Ons beveel vir graad R ons spesiale Perseptuele Ontwikkelingsprogram aan. Dit vorm deel van gr 1. Kyk gerus na 'n uittreksel op ons webwerf > Agtergrond > Voorbeelde > Gr 1 Oorkoepelende elektroniese vakgids.

Gebruik dus week 1 tot 10 vir graad R en daarna vir graad 1 week 11 en verder.

Skryf in vir die Vereniging vir Tuisonderwys se aktiewe eposnuusbrief.

  1. Stuur bloot 'n leë e-pos aan tuisonderwys-subscribe@yahoogroups.com en
    antwoord die stelselboodskap wat jou vra om te bevestig dat jy wel wil
    aansluit.

  2. Let Wel: Jy moet die booskap stuur vanaf die adres waar jy die boodskappe
    wil ontvang.

Riglyne om in die loop van die jaar met Kenweb te begin.

  1. Indien die leerder tot dusver die afgeskaalde nuwe landskurrikulums gedoen het, is daar 'n groot verskil wanneer oorgegaan word na die Kenwebkurrikulums wat vakgebaseer en inhoudryk is. Dit maak 'n gladde oorskakeling gedurende die jaar moeilik omdat so min werk ooreenstem.

  2. Om oor te skakel sonder om onnodige druk op die leerder te sit is die doelwit. In die Kenweb denkraam wil ons hê die leerder moet sukses ervaar want dit is die fondament vir selfgedrewenheid. 'n Onnodig moeilike oorgang moet dus vermy word.

  3. Die ideaal is om met die Kenwebprodukte aan die begin van 'n graad te begin. As dit dus enigsins werkbaar is, beveel ons aan dat die volledige graad gedoen word. Die mate van oorvleueling met werk wat reeds in die skool gedoen is, werk positief om die leerder te sterk in die wete dat die werk baasgeraak kan word en bevorder selfgedrewenheid.

  4. 'n Verdere voordeel van hierdie benadering is dat ouers volledige Kenwebbewysstukke het dat die jaar se werk gedoen is.

  5. Indien ouers oordeel dat daar te veel werk vir die graad gedoen is om te verloor, kan hulle oorweeg om net die kritieke vakke soos Wiskunde, Afrikaans, Engels en Wetenskap volledig vir die hele graad te doen. Ouers moet ook vakke insluit waarmee die leerder probleme het indien dit nie van die genoemdes is nie.

  6. Natuurlik is die nadeel van hierdie werkswyse dat ouers nie kan bewys dat al die Kenwebvakke vir die jaar gedoen is nie. Maar die volgende graad sal dan weer normaal verloop.

  7. Dis belangrik dat ouers besef dat hulle in hierdie besluit die verantwoordelikheid dra om die leerder se belang te beskerm. Kenweb kan bloot die produkte beskikbaar stel en daarmee ouers se hande sterk.

Hoeveel rekenaars het ons nodig?

Moet ek 'n rekenaar vir elke kind hê om Kenweb se rekenaarpakkette te gebruik?

Hoewel daar gesinne is wat met moeite met minder regkom beveel ons 'n rekenaar per kind aan. In die werkomgewing daar buite werk dit ook gewoonlik so en rekenaars raak aanhoudend goedkoper.

Hoe haal ek 'n program van 'n rekenaar af (verwyder)?

Gaan na Start > All programs > Kenweb > Kenweb Graad # Geheelpakket > Verwyder Kenweb Graad # Geheelpakket.

# = vervang die teken met die toepaslike graad.

Is Kenweb geregistreer vir BTW?

Nee.

Ek sukkel om spesiale karakters in Kenweb se rekenaarprogram in te tik.

Die inligting is altyd byderhand in Kenweb se rekenaarpakkette. Gaan na Rekenaarpakket > Hulp > Hulpteks > Spesiale karakters. Hierdie inligting verskyn daar:

Soms moet sekere karakters wat nie op die gewone rekenaar se sleutelbord voorkom nie, in antwoorde ingetik word. Hieronder is die kodes daarvoor.

Hou die ALT-knoppie in en tik die syfers op die numeriese blok. Maw nie die syfers op die boonste ry sleutels nie. (Sorg dat Num Lock aan is.)

à = 133        ì = 141        ù = 151        ß = 225
á = 160        í = 161        ú = 163        ½ = 171
â = 131        î = 140        û = 150        ¼ = 172
ä = 132        ï = 139        ü = 129        £ = 156
è = 138        ò = 149       ² = 253        ñ = 164
é = 130        ó = 162       ° = 248        æ = 145
ê = 136        ô = 147       ± = 241        ç = 135
ë = 137        ö = 148       µ = 230        · = 250"

Indien u 'n skootrekenaar gebruik sonder 'n afsonderlike numeriese blok, sal die numeriese blok "versteek" wees tussen die gewone sleutels. Vir die gebruik daarvan sal u hulp moet soek in die rekenaar se handleiding. Maar hier is 'n paar wenke wat mag help:

Wenk 1: Hou die funksiesleutel (Fn) saam met Alt in en tik dan die kode op die numeriese blok wat tussen die ander sleutels "versteek" is, nie dié in die boonste ry nie.

Wenk 2: Die stand van die Num Lock sleutel mag 'n verskil maak.

Wenk 3: Die stand van die Mode sleutel mag 'n verskil maak.

Hoe veilig is dit om tuisonderwys te doen?

Tuisonderrig is volledig wettig in Suid-Afrika. Kyk na "Inhoude en regsaspekte" in die Gids.

Maar ons beveel sonder huiwering aan dat u aansluit by een of albei hierdie organisasies. Hulle doen ongelooflike werk vir almal wat tuisonderwys gee veral wat betref geborgenheid.

Moet ‘n graad se werk binne ‘n sekere tyd voltooi word?

Daar is nie ‘n tyd waarbinne ‘n graad voltooi hoef te word nie. U ken u kinders die beste en daarom kan u self besluit daaroor. Eksamens hoef nie in Maart, Junie, September en November afgelê te word nie dit kan afgelê word wanneer die leerder klaar is met die werk waaroor die eksamen handel. Dis belangriker dat die leerder die werk verstaan en geniet al neem dit langer.

Twee grade in een jaar - 'n paar oorwegings.

  1. Kenweb skryf nie aan ouers voor hoe hulle moet werk of hou soos 'n skool beheer oor wat hulle doen nie. Ons verkoop net produkte wat ouers help tuisonderwys gee.
  2. In tuisonderwys het ouers die insig in wat hulle kinders nodig het en neem hulle ook verantwoordelik vir die uitkoms van hulle besluite.
  3. Kenweb se stelsel is juis ontwikkel sodat leerders teen hulle eie tempo kan werk. Hulle kan dus meer as een graad in 'n jaar voltooi of minder. Dit gaan oor die leerder wat sukses ervaar en daardeur gemotiveer word, nie oor tyd nie.
  4. Die grootste gevaar van meer grade in een jaar is dat dele van die werk uitgelaat word en leerders dan uit tande in hulle kennis het wat hulle later terughou. Maak dus seker dat al die werk behoorlik gedoen word.
  5. Kenweb se inhoude en standaard is hoog. Om twee grade in een jaar te doen mag meebring dat leerders oorlaai word en dan negatiewe gevolge oorhou. Wanneer leerders selfgedrewe raak, moet ouers oorweeg om hulle die pas te laat aangee. Kenweb se oueropleiding kan help om dit reg te hanteer.
  6. Dis belangrik om Kenweb se volledige stelsel te gebruik sodat u genoeg dokumentasie het om u standaard van onderwys te kan bewys indien nodig.
  7. Oorweeg gerus om die Pestalozzi Trust te raadpleeg oor wetlike aspekte. Kyk op ons webwerf onder Skakels op die keuselys.

Ons glo Kenweb kan vir studente met spesiale behoeftes goed werk oor hierdie redes:

  1. Ons het baie kliente met soortgelyke uitdagings wat Kenweb met groot vrug gebruik.
  2. Kenweb se stelsel is goed gestruktureerd sodat die kind rustig is oor wat gedoen moet word. (Vir voorbeelde gaan na ons webwinkel > boonste keuselys >  Agtergrond > Voorbeelde)
  3. Die duidelike struktuur (doelwitvel) maak dit vir ouers maklik om te beoordeel watter werk reeds gedoen kan word. Onnodige dele kan net doodgetrek word.
  4. Omdat Kenweb se produkpryse so sterk gesubsidieer is, kan verskillende jare se pakkette aangekoop en na behoefte gemeng word.
  5. ‘n Rekenaar is besonder geduldig en tik is meestal makliker as om te skryf. ‘n Rekenaar wys suksesse duidelik en dit werk motiverend.
  6. Ons Begeleierskursus vir ouers gee vir ouers van spesiale kinders die dieper insig wat nodig is om hulle kinders die grootste voordeel van die Kenwebstelsel se inherente krag te gee. Omdat die Kenwebwerkswyse vir die aanbieding van die kursus gebruik word, gee dit vir die ouer ‘n goeie begrip van hoe die kind die stelsel en rekenaarprogramme sal ervaar.

Hoekom is Kenweb se produkte so goedkoop?

Ons het in 2011 begin om ons pryse met omtrent 80% te subsidieer omdat soveel kinders begin gebrek ly aan opvoeding weens die langdurige resessie en ander probleme in Suid-Afrika.

Ons is in staat om pryse te subsidieer omdat ons produkte lank reeds bestaan en ons vir ons gesin aanvullende bronne van inkomste ontwikkel het.

Ons verskaf hulpmiddels wat tuisonderwys maklik en effektief maak. Ons is nie ‘n skool waarby u inskryf en wat u deurlopend kontroleer nie.

Personeelintensiewe aspekte soos verkope word outomaties deur die webwinkel gedoen wat uitstekende hulpbladsye het wat die koper stap-vir-stap begelei.

Dis belangrik dat u besef dat ongeveer 3% van die inhoude in die handboeke verouder het. Bv SA-provinsies in Aardrykskunde. Ouers kan sulke dele maklik in die doelwitvelle doodtrek sodat die kind dit nie doen nie of dit sien as geskiedenis waarvan die kind moet kennis neem. Meeste van ons kliënte sien dit as 'n geringe opoffering om die voordele van die vorige leergange te kan kry.

Kenweb se produkte bestaan reeds 'n geruime tyd. Is dit nie 'n nadeel nie?

Ons ervaring is dat grondliggende kennis grootliks dieselfde bly en skoolleergange is juis daarop gemik. Teenoor verskraalde nuwe leergange is Kenweb se vakgebaseerde inhoude heel omvattend, kultuurvriendelik en behoort nog maklik te voldoen. Dit geld veral in tuisonderwys waar ouers in elkgeval eie insigte en perspektiewe wil bysit.

Maar daar is ander aspekte wat moontlik belangriker as inhoud is. Dit is vaardighede en houdings.

Kenweb se pakkette is waarskynlik so blywend gewild omdat die Selfgedrewe Onderwysmodel soveel kosbare vaardighede ontwikkel. Dis na my mening belangriker as inhoud omdat vaardighede se waarde bly geld ten spyte van die kennisontploffing. Meer nog, met sterk vaardighede kan die leerder vorentoe verouderde kennis self aanvul.

Houdings is selfs nog meer blywend en deurslaggewend as vaardighede en dit is ook fyn ingewerk in die Selfgedrewe Onderwysmodel. Natuurlik moet 'n mens die Kenweb se begeleierskursus doen om die volle voordeel van die stelsel te kan benut.

Dis belangrik dat u besef dat ongeveer 3% van die inhoude in die handboeke verouder het. Bv SA-provinsies in Aardrykskunde. Ouers kan sulke dele maklik in die doelwitvelle doodtrek sodat die kind dit nie doen nie of dit sien as geskiedenis waarvan die kind moet kennis neem. Meeste van ons kliënte sien dit as 'n geringe opoffering om die voordele van die vorige leergange te kan kry.

Watter produkte kan direk van die internet afgelaai word?

Al die produkte op hierdie webwinkel kan gekoop en na inbetaling direk afgelaai word van die internet. Indien u egter byvoorbeeld gedrukte handboeke verkies, kan u dit teen gewone pryse by Orania Beweging kry. Kyk by Kontakinligting. Gedrukte handboeke word in die winkel geadverteer as advertensie-items.

Ek het nie internet nie!

Omdat die aflaai van pakkette, handboeke en eksamens eenmalig is, is dit nie so 'n groot probleem nie. Kliënte kom met vindingryke planne na vore. Werkplekke gee blykbaar maklik toestemming vir so 'n verdienstelike saak. Daardie rekenaargenie in die familie hou soms daarvan om die ridder op die wit perd te wees en vir sommiges het die plaaslike biblioteek se internet al gewerk.

Kenweb se rekenaarprogram verwag presiese antwoorde. Is dit nie 'n nadeel nie?

Die rekenaarwerk is maar een element van 'n fyn gebalanseerde model wat uitgesit word in die vakgids. Opgesom maak die leerder eers 'n boomdiagram van die hoofstuk, bestudeer  die bladsye in die handboek, doen dan die rekenaarprogram daarvoor en lewer aan die einde van die hoofstuk bewys dat hy/sy die hoofstuk ken en verstaan.

Bykomende gedagtes daaroor:

Dit onsigbaar maar die rekenaarprogram het heelwat ingeboude alternatiewe op antwoorde. Natuurlik is die antwoord in die handboek die ideaal en soms die enigste wat in die sinskonstruksie pas.

'n Voordeel van dié werkswyse is dat dit kinders help leer om korrek te spel. Dit is ‘n belangrike aspek en een wat deesdae veral met selfone en eposse al hoe minder aandag kry. Baie leerders wat uit die Kenweb stelsel kom se spelling is ver bo-gemiddeld in beide Afrikaans en Engels en natuurlik vaktaal ook. Dit gee ‘n selfstandige en volwasse beeld en is belangrik vir byna enige beroep wat kinders in die toekoms sal beoefen.

Onthou dat die rekenaarvrae maar een aspek van die Kenwebstelsel is. Lees die vakgids vir meer inligting. Om die verborge krag van die Kenwebmodel te gebruik is dit natuurlik ideaal om die Oueropleiding kursus vir ouers te doen.

Hoe word spesiale karakters soos ê in die rekenaarprogram getik?

Maak die program oop en klik links bo op Hulp > Hulpteks. Punt 1 verduidelik hoe.

Hoe gemaak met Wetenskap eksperimente?

Eerste prys sal wees as u die eksperimente self kan doen maar ongelukkig is dit nie altyd moontlik nie. Vir ‘n vervanging kan u dalk kyk na die dvds by http://afrikaansewetenskapeksperimente.blogspot.com/. Die twee dvds dek die meerderheid van gr 8 en 9 se Wetenskap eksperimente.

Terreinlisensies beskikbaar?

Rekenaarpakkette: Kenweb verkoop nie terreinlisensies nie. Vir elke rekenaar moet sy eie rekenaarpakket aangekoop word.

Rekenaarwiskunde / Sergo?

Sergo is wiskunde rekenaarprogramme wat ons tevore vir aanvulling by aanvangsonderrig aanbeveel het. Dit word verskaf deur 'n afsonderlike onderneming. Soek gerus op die internet indien u hulle produkte wil ondersoek. Ons weet nie of hulle nog bestaan nie.

Daar is baie internetbronne beskikbaar. Soek vir wiskunde vir die toepaslike graad en temas.

U kan ook Kenweb se gewilde "Gr 1 - 9 Wiskunde-vaardighede" gebruik om te help om basiese vaardighede aan te leer en vars te hou tot in gr 9.

Hoe werk ek persentasies op verlagvorms (eie sertifikaat) uit?

Vir die verslagvorm (gratis verslae elders beskikbaar vir aflaai) vir gr 3 - 6 het u byvoorbeeld die volgende persentasies nodig.
  • Ingrif 1 - 15%
  • Middeleksamen - 35%
  • Ingrif 2 - 15%
  • Eindeksamen - 35%
Stap1.

Sorg dat u vier punte 'n persentasie is. Indien die Ingrif 1 punt byvoorbeeld 17/20 is kan dit so 'n persentasie gemaak word. Tik op die sakrekenaartjie 17 / 20 * 100 (17 deelteken 20 maalteken 100). Die persentasie vir Ingrif 1 is dan 85.

Stap 2.

Bereken die persentasies. Ons gebruik hier voorbeeldpunte van 83, 69, 89 en 63.
  • Ingrif 1 = 83. Dus moet u 15% van 83 bereken. Op die sakrekenaartjie: 15 deelteken 100 maalteken 83. Antwoord 12 (benader).
  • Middeleksamen = 69. Dus moet u 35% van 69 bereken. Op die sakrekenaartjie: 35 deelteken 100 maalteken 69. Antwoord 24 (benader).
  • Ingrif 2 = 89. Dus moet u 15% van 89 bereken. Op die sakrekenaartjie: 15 deelteken 100 maalteken 89. Antwoord 13 (benader).
  • Eindeksamen = 63. Dus moet u 35% van 63 bereken. Op die sakrekenaartjie: 35 deelteken 100 maalteken 63. Antwoord 22 (benader).

Stap 3.

Tel die voorbeeldpunte bymekaar om die jaarpunt te kry.
  • Ingrif 1 = 12
  • Middeleksamen = 24
  • Ingrif 2 = 13
  • Eindeksamen = 22
12 plus 24 plus 13 plus 22 = 71 voorbeeld jaarpunt.

Onbeantwoord?

Indien u 'n vraag het wat nie hier beantwoord is nie, kan u gerus vir ons 'n epos stuur deur onder "Hulp" op "Stuur 'n boodskap" te klik.




Myne
Aanmeld
Betaalmiddels

VISA en MASTER kaart
Klik hier vir meer inligting

PAYPAL
Betaal met PAYPAL. Klik hier vir meer inligting

(Volledige besonderhede in die Gids punt 2 op die voordeur)



Sertifikate

Gebruikers aanlyn:  784 ongeregistreerde kliente
Kopiereg © 1997-2024 Kenweb Oplossings