Is tuisonderwys wettig?
Posted in Blog on March 23, 2012 by Bouwe van der Eems
Inligting oor die regstatus van tuisonderwys in Suid-Afrika wat deur
die media en staatsamptenare verskaf word is dikwels verwarrend vir
ouers. Die doel van hierdie artikel om die regsstatus van tuisonderwys
in Suid-Afrika te verduidelik met verwysings na bronne sodat ouers die
feite vir hulleself kan verifieer.
The regsituasie is dat internasionale reg, die Suid-Afrikaanse
grondwet en die SA Skolewet voorsiening maak daarvoor dat kinders
geregistreer kan word vir onderwys tuis. Die praktiese situasie is egter
dat baie provinsiale owerhede nie die administratiewe prosesse in plek
het om ’n kind te registreer vir tuisonderwys nie.
By die provinsiale owerhede wat wel die administratiewe prosesse in
plek het, word die proses geadministreer deur amptenare met min begrip
van tuisonderwys self en die regsaspekte van tuisonderwys. Hierdie
amptenare vereis dikwels dat ouers moet voldoen aan allerhande vereistes
wat nie deur die wet voorgeskryf word nie. As gevolg van hierdie
situasie registreer meer as 90% van die ouers nie hulle kinders vir
tuisonderwys nie, omdat dit hulle oortuiging is dat dit nie in hulle
kinders se belang is om aan die onwettige vereistes te voldoen nie.
Die regsituasie
Die hoogste wet in Suid-Afrika is die grondwet. Die hoeksteen van die
grondwet is die Handves van Regte wat in hoofstuk 2 van die grondwet
beskryf word. Volgens art. 29(1) van die grondwet het almal in
Suid-Afrika die reg op basiese onderwys, insluitende kinders. Dit
beteken dat elkeen die reg het om te besluit of hulle basiese onderwys
wil ontvang, waar hulle hierdie onderwys wil ontvang en wat die inhoud
van hierdie onderwys moet wees.
Kinders is egter nie in staat om hierdie soort besluite vir hulleself
te maak nie. Dit is hoekom art. 28(1) van die grondwet stipuleer dat
kinders die reg het op ouerlike sorg. Dit beteken dat ouers namens hulle
kinders moet besluit oor wat in hulle beste belang is. Hierdie ouerlike
sorg sluit ook besluite oor onderwys in. Dit impliseer dat ouers moet
besluit watter soort onderwys hulle kinders moet ontvang, skoolonderwys
of tuisonderwys.
Wanneer die Handves van Regte geďnterpreteer word, vereis die
grondwet in art. 39(1)(b) dat die howe ook internasionale reg moet
oorweeg. Een stukkie internasionale reg wat toepaslik is op hierdie
situasie is art. 26(3) van die Universele Verklaring van Menseregte, wat
stel dat ouers die eerste reg het om die soort onderwys te kies wat
hulle kinders moet ontvang. Dit bevestig dat die interpretasie van die
grondwet, soos beskryf in die vorige paragraaf, korrek is, en dat ouers
dus die grondwetlike reg het om te kies dat hulle kinders hul onderwys
tuis ontvang.
Dit impliseer dat slegs ouers die gesag het om te besluit of hulle
kinders onderwys tuis of by die skool sal ontvang. Die grondwet stel nie
dat staatsamptenare die gesag het om hierdie besluit te maak nie, en
dat ouers aan staatsamptenare ’n verduideliking verskuldig is waarom
hulle van die oortuiging is dat tuisonderwys is die beste belang van
hulle kinders is nie, wanneer ouers kinders registreer vir tuisonderwys.
Indien jy die reg het om iets te doen, dan hoef jy nie toestemming te
vra om dit te doen nie. Wanneer dit nodig is om toestemming te vra, dan
is dit nie ’n reg nie, maar ’n voorreg.
Die media vermeld soms dat ouers ’n aantal dinge moet voorlę wanneer
hulle toestemming vra om hulle kinders tuisonderwys te gee. Ouers moet
bv. hulle hoogste kwalifikasie vermeld. Nog die grondwet, nog die SA
Skolewet skryf voor dat die reg om tuisonderwys vir hulle kinders te
kies slegs gegun kan word aan ouers met sekere kwalifikasies. Daarom is
daar geen regsgronde om van ouers te verwag om hulle hoogste
kwalifikasies voor te le nie. Navorsing het ook herhaaldelik getoon dat
die kwalifikasie van die ouers geen invloed het op die sukses van
tuisonderwys nie. Daar is dus ook geen opvoedkundige gronde waarom ouers
hulle kwalifikasies moet voorlę nie.
Artikels in die media vermeld ook soms dat ouers die kurrikulum moet
voorlę wat hulle beplan om te volg. Dit impliseer dat die departement
van onderwys die inhoud van die tuisonderwys moet goedkeur, alvorens
hulle toestemming kan gee dat ouers tuisonderwys vir hulle kinders kies.
Behalwe die feit dat hierdie vereiste nie afgelei kan word van die
grondwet of die SA Skolewet nie, het regter Cynthia Pretorius in ’n
onlangse hofuitspraak in die Pretoria Hooggeregshof op 25 Maart 2011
bevestig dat die staat se kurrikulum nie bindend is vir onafhanklike
skole en ouers wat tuisonderwys gee nie.
Die praktiese situasie
Die SA Skolewet vereis dat ouers hulle kinders moet registreer vir
tuisonderwys. Hierdie registrasie moet gedoen word by die provinsiale
onderwysdepartement. In die praktyk het meeste provinsiale onderwys
departemente egter nie administratiewe vermoëns om kinders te registreer
vir tuisonderwys nie.
Sommige van die groter provinsies het beperkte vermoëns om kinders te
registreer vir tuisonderwys. Die amptenare wat egter in die hierdie
departemente werk het egter ’n baie beperkte begrip van tuisonderwys.
Terwyl ouers wat tuisonderwys gee baie intiem betrokke is by hulle
kinders se onderwys en presies weet wat hulle kinders kan doen en wat
nie, vereis amptenare van die onderwysdepartement van ouers om rekords
se hou van bywoning, vordering en assessering. Watter waarde het
kabinette vol rekords vir die onderwys aan die kinders? Sodat ma oor 3
jaar kan onthou dat die kinders tuis was op 25 April 2012?
Amptenare het ook ’n beperkte begrip van die wet wat hulle
veronderstel is om toe te pas. Alhoewel die grondwet, internasionale reg
en hofuitsprake bevestig dat slegs ouers die gesag het om besluite te
neem oor die soort onderwys en die inhoud van die onderwys wat hulle
kinders gaan ontvang, verwag provinsiale amptenare nog steeds dat ouers
kurrikulums moet voorlę vir toestemming. Amptenare tree op asof
tuisonderwys ’n voorreg is en nie ’n reg nie.
Op publieke vergadering verwys die amptenare dikwels na “ons”
kinders, asof die kinders ook aan hulle behoort, en asof hulle ook
gesag het om besluite namens hierdie kinders te neem. Die stelling word
dan dikwels gemaak dat dit ‘n hele dorp (village) nodig is om ’n kind op
te voed, en die Dept. van Onderwys beskou homself as ’n belangrike deel
van hierdie dorp. Die geskiedenis en navorsing bewys egter dat ’n kind
nie ’n dorp nodig het om hom op te voed nie, maar slegs toegewyde ouers.
Wat ouers doen
Ouers wat hulle kinders wil registreer vir tuisonderwys by die
Department van Onderwys loop die risiko dat daar van hulle verwag sal
word om aan allerhande vereistes te voldoen wat nie deur die wet
voorgeskryf word nie. Dit is oor hierdie rede dat meer as 90% van ouers
hulle kinders nie registreer nie. Tot dusver is nie n enkele
tuisskoolouer suksesvol vervolg omdat hulle nie hulle kinders
geregistreer het nie.
Ouers wat oorweeg of hulle moet registreer of nie moet die dokument hieroor van die Pestalozzi Trust noukeurig bestudeer. Kliek hier om die dokument oop te maak.