Kenweb Embleem

Kenweb - Hoe werk dit?

Hoe werk Selfgedrewe Onderwys?

RatteSelfwerkonderwys is 'n grondig herdinkte onderwysfilosofie wat voorsiening maak vir die eie tempo van elke kind, die bewese ontwikkeling van 'n reeks lewensvaardighede, die sinvolle inskakeling van hoë tegnologie en multimedia, die ontwikkeling van ondernemerskap as 'n vaardigheid en die ontwikkeling van die volle potensiaal van vinnige/aktiewe sowel as stadige leerlinge. Leerders ontwikkel 'n vermoë om self inisiatief te neem in hulle studies.

Die Kenwebmodel kan as 'n selfgedrewe onderwysmodel beskryf word. Leerlinge vanaf graad 4 (st 2) ontvang vir elke vak 'n doelwitvel wat aandui wat in elke week van die jaar gedoen moet word. Dit sluit in: bladsye wat geleer moet word, rekenaarprogramme waarmee die spesifieke bladsye getoets moet word totdat minstens 80% bereik word, praktiese werk wat gedoen moet word (byvoorbeeld kreatiewe skryfwerk), video's wat gekyk moet word, werkvelle wat voltooi moet word asook boomdiagramme wat met die hulp van 'n volwassene bemeester moet word.

Deurlopende evaluering word met rekenaars gedoen sodat elke leerling dadelik weet of hy die werk reg verstaan. Gevolglik word min tyd verspil en leerlinge se spelvermoë baat baie. Omdat rekenaars hierdie "huiswerk" dadelik merk, het onderwysers/ouers weinig rompslomp in die vorm van merkwerk.

Praktiese aspekte soos kreatiewe skryfwerk, tale praat, wetenskapeksperimente, aardrykskunde kaartwerk, en so meer word deur kundiges persoonlik aangebied.

Onderwysers/ouers word nou professioneel aangewend. Hulle moet elke leerling individueel ontleed en opvoed. Hulle help die leerling om perspektiewe op die leerwerk te ontwikkel. Hulle neem nie meer volledig verantwoordelikheid vir die kind se optrede nie. Hulle help die kind om stelselmatig self verantwoordelikheid te neem. Die massas nasienwerk wat onderwysers/ouers gewoonlik van individualisering weerhou, word nou deur die rekenaar gedoen.

Leerlinge van graad 1 tot graad 3 ontvang hoofsaaklik klassikale onderrig. Vir 'n gedeelte van die dag (ongeveer 'n uur) werk hulle egter op hulle eie met die rekenaars. Hulle leer dan met 10 vingers tik en leer om self beplanning te doen en verantwoordelikheid te aanvaar vir vordering. Wanneer hulle oorskuif na graad 4, is hulle in staat om hulle week self te beplan en resultate te lewer.

Die stelsel waarborg 'n minimum standaard omdat leerlinge vir al die feite in die handboeke wat gebruik word, minstens 80% moet kry en twee volle skriftelike eksamens aflê. Goeie onderwysers en hulpmiddele kan dus net die standaard verder verhoog.

Die Kenwebmodel het naas die gewone akademiese meting met toetse en eksamens, 'n totaal nuwe metode ontwikkel waarmee 'n kind se vermoë om aanhoudend en gekonsentreerd te werk, gemeet word. Hierdie meting bring mee dat die kind nie net leer om hard en aanhoudend te werk nie. Dit lei ook tot die verwerwing van lewensvaardighede soos beplanningsvaardighede, ondernemerskap, betroubaarheid, leesvermoë en so meer.

Die Kenwebmodel gebruik elemente soos wisselende werksure en verlof om die kind se oorgang na eie inisiatief te versnel.

Kenweb bied aan onderwysers en ouers uitgebreide geleentheid om opleiding in die stelsel te ontvang.

Kenweb is 'n diensverskaffer wat sy dienste op 'n sakegrondslag verskaf. Alhoewel Kenweb sterk leiding gee oor hoe selfwerkonderwys die beste toegepas kan word, is dit nie 'n vereiste nie. Gebruikers besluit self hoe hulle die programme en ander dienste aanwend.

BELANGRIK: Ons hulpmiddels is ontwikkel vir Suid-Afrika se vorige, inhoudryke leerplanne. Voldoening aan spesifieke kurrikulums van spesifieke lande is die gebruiker van die produkte se verantwoordelikheid. Vir byvoorbeeld voldoening aan uitkomsgebaseerde leerplanne soos K2005 van SA mag weglating, aanpassing of aanvulling nodig wees.

 

____________________________________________
Navraag | Gebruiksvoorwaardes | Jaarprogram