Op hierdie bladsy vind u getuigskrifte oor hoe tuisskole Kenweb se selfwerkonderwys en rekenaarprogramme ervaar.
Ryk Neethling skryf:
Ons is steeds dankbaar teenoor Kenweb vir die hoë standaard wat hulle gehandhaaf het, aangesien my dogter, ten spyte van die feit dat sy vir die 2 jaar (waartydens sy by Kenweb ingeskryf was) gereeld in die buiteland was, en nooit formele skool bygewoon het nie, steeds "voor" is met haar ontwikkeling. Sy presteer die afgelope 2 jaar uitstekend op akademiese gebied. Sy het nou 'n aanbod ontvang om van volgende jaar (2008) aan die Universiteit van Arizona in Amerika te studeer op 'n sportbeurs (sy is soos haar ouer broer, Ryk, 'n internasionale swemmer).
Advokaat Pienaar skryf
Beste Kenweb
Dit was nie vir ons 'n maklike besluit om ons seun gedurende sy graad 10-jaar uit die skool te haal en liewer tuisonderrig te oorweeg nie. Ons het ons tuisonderrig opsies behoorlik oorweeg maar nadat ons die inligting aangaande Kenweb gekry het, het ons nooit weer teruggekyk nie.
Ons het ons seun vanjaar direk vir drie matriekvakke ingeskryf - almal op hoër graad. Ons kind het verander van 'n moedelose, depressiewe en ongemotiveerde kind in 'n gelukkige, ontspanne kind met 'n gemotiveerde toekomssiening.
Waar ons op skool voortdurend gesukkel het met huiswerk wat nie gedoen is nie en onderwysers wat hom daaroor straf, het hy hierdie jaar ontwikkel in 'n selfgedissiplineerde kind wat pligsgetrou en gemotiveerd sy werk gedoen het.
Sy gemiddelde jaarpunt waarmee hy sy matriek eindeksamen aangedurf het, was 15% hoër as sy gemiddelde punt in graad 10 en dit terwyl julle standaard beslis hoër is as waaraan ons gewoond is. Ons was in 'n posisie om 'n vergelyking te tref, want ons dogter het in 2000 'n "gewone" matriek geskryf en sy het ook al drie die vakke (Engels, Aardrykskunde en Bedryfsekonomie) op hoër graad gehad.
Ons dogter het vanjaar wiskunde en natuur- en skeikunde (beide hoër graad) deur Kenweb herhaal om beter punte te verwerf met die oog op toelating tot studies in veeartsenykunde. Ons het haar ekstra klasse laat neem by 'n opvoedkundige sentrum en daar is verbasing uitgespreek oor die hoë standaard van die wiskunde waarmee sy besig was. Die opmerking is gemaak dat die "gewone" matriek nie hierdie wiskunde sou kon doen nie.
Ek wil julle ook bedank dat julle altyd beskikbaar en bereid was om hulp en bystand te verleen wanneer dit nodig was en dat ons enige tyd kon skakel en altyd met vriendelikheid ontvang is.
Ons is bereid om inligting vanuit ons ervaring te verskaf aan enige ouer wat Kenweb oorweeg.
'n Geseënde Kersfees vir julle almal!
ADV L J PIENAAR
Mev Maryna Griessel skryf oor haar tuisskool
Graag deel ek met julle my entoesiasme aangaande Kenweb se tuisstudieprogram.
As gevolg van epilepsie by my 14 jarige seun Ernst gediagnoseer, was hy baie onseker van homself, gespanne, onbeholpe, lusteloos en vreeslik tydsaam. Swak konsentrasie en die feit dat hy gesukkel het om te lees, het gelei tot ‘n swak selfbeeld.
Die gebruik van medikasie en sy vasberadenheid om wel julle uitstekende rekenaarprogramme, doelwitvorms vir weeklikse beplanning asook die handleidings wat daarmee gepaard gaan suksesvol te gebruik, het bygedra tot ‘n meer ontspanne, gelukkiger en selfversekerde kind.
Die toegewydheid waarmee Ernst elke dag sonder aanmoediging van my kant af, sy pligte nakom is ongelooflik, want hy was nooit so gretig om te begin studeer voor sy tuisstudies begin het nie.
Dit verg wel baie meer van my as ouers om hom by die huis te laat studeer, maar die opoffering is min in vergelyking met dit wat ek terugkry. Solank daar net ‘n balans gehandhaaf word tussen studies, sport en ontspanning, glo ek is Kenweb ‘n oplossing vir baie van ons ouers wat om een of ander rede hul kinders tuis wil laat studeer.
Mev Elza Singels skryf nadat sy die weekopleiding gedoen het:
Ek wil uit my hart uit vir Kenweb en Volkskool Orania en die personeel en leerlinge bedank. Die Kenweb Onderwyseropleiding van 5 tot 9 April was 'n keerpunt in my lewe. Baie dankie vir al die navorsing en harde werk wat ingaan in die aanbied van gereelde kursusse, Projek Hupstoot en die praktiese implimentering by Volkskool Orania om tred te hou met die eise wat die inligtingseeu aan die onderwys stel.