Kenweb Embleem

Kenweb Getuigskrifte Deskundiges

Getuigskrifte deskundiges

GetuigskrifOp hierdie bladsy vind u getuigskrifte oor hoe deskundiges Kenweb se Selfgedrewe Onderwys sien.

Dr Piet Muller, bekende toekomskundige en joernalis skryf in Insig-tydskrif:

"Gemeet aan die sukses op universiteit of latere beroepsukses, is dit duidelik dat die huidige onderwysstelsel dringend hersiening nodig het."

"Onderwys het nie tred gehou met die eise van die tyd, of met die fenomenale ontwikkeling wat in onderwystegnologie plaasgevind het nie. In 'n wêreld waarin kennis elke 2,7 jaar verdubbel en alles wat ons vandag weet in 2030 net een persent van die wêreld se kennispoel sal uitmaak, is 'n stelsel wat 250 jaar gelede tot stand gekom het, nie meer goed genoeg nie. Trouens, onderwys is die enigste bedryf wat uit die Nywerheidsrewolusie kom, wat nog nie grondig hervorm is nie. Dit is steeds arbeidsintensief en 'low tech'."

"Altesaam 15 klein privaatskole en 90 tuisskole (gesamentlik sowat 700 kinders) gebruik nou reeds die sogenaamde Kenweb-stelsel wat deur die eksperimentele Volkskool van Orania ontwerp is en wat onlangs van 'n wêreldbekende opvoedkundige, dr E.Paul Torrance van Georgia in die VSA, lof ontvang het."

"Hierdie stelsel breek radikaal met die bestaande onderwysmodel. Pleks dat 'n leerder 'n passiewe hoorder van nuwe kennis word, word hy nou 'n aktiewe insamelaar van kennis en is hy vir sy eie resultate verantwoordelik. 'n Bepaalde aantal studie-modules moet binne 'n sekere tyd afgehandel word, maar elke leerder kan self besluit hoe hy of sy dit wil doen."

"Kom sal dit kom. Dit is net 'n kwessie van wie sal die eerste ingee: Suid-Afrika se beursie of die land se onderwysowerheid."

Die berig is verkort.

Onderwyskollege van Potchefstroom. 'n Dosent van die kollege skryf aan Kenweb: (Die volledige brief is by Kenweb beskikbaar)

"Ek wil julle graag gelukwens met die kwaliteit programme wat ons ontvang het. Die feit dat dit nie slegs 'n baie hoë standaard handhaaf nie, maar ook die nuutste tegnologie ondersteun, het ons werklik beïndruk. Die studente is deurgaans van mening dat dit 'n besonder hoë standaard is wat aan leerlinge daarmee gestel word. Die programme is uiters gebruikersvriendelik en aanskoulik."

"Maar ek sê weer, van alle pakkette wat ons vanjaar bestudeer het, is almal dit eens dat hierdie by verre die hoogste standaard het."

Mev Corné Stapelberg M. Soc. Sc. (UOVS) Kliniese sielkundige skryf soos volg:

As sielkundige kry ek deurentyd te doen met persone wat sukkel om aan die lewenseise wat aan hulle gestel word, te voldoen. Veral in hierdie sterk kompeterende wêreld, met sy vinnige tegnologiese ontwikkeling, word besondere uitdagings aan elkeen se lewensvaardighede en menswees gestel.

Wanneer 'n kind sy skoolloopbaan voltooi, betree hy hierdie wêreld; en moet hy reeds oor sekere lewensvaardighede beskik. Skoolopleiding behoort dus 'n holistiese benadering tot die ontwikkeling van die kind te behels, sodat 'n kind toegerus kan word met die regte ingestelhede tot die lewe en voldoende vaardighede.

Dit is in hierdie opsig wat ek Volkskool Orania (Kenweb se modelskool) wil gelukwens. Dit maak my opgewonde om te sien wat die resultate is van die holistiese benadering wat by dié skool gevolg word. Die leerlinge het 'n selfwerksaamheidsingesteldheid wat ek nog nooit voorheen by hierdie ouderdomme teëgekom het nie! Hulle vermoë om verantwoordelikheid te neem vir hulle eie onderrrig, gedrag en vooruitgang in die lewe, is reeds op 'n vlak wat gewoonlik by jong volwassenes verwag sou word (en dikwels dan nog nie eens ontwikkel het nie).

Selfwerksaamheid is die belangrikste vaardigheid om lewenskwaliteit en sukses te verseker. Hierdie leerlinge het dit reeds ontwikkel en wat so verstommend is, is dat hierdie leerervaring plaasvind op 'n wyse wat die kind geniet! Die positiwiteit en opgewondenheid teenoor uitdagings wat by hierdie leerlinge teenwoordig is, is ongeëwenaard in Suid-Afrika.

Ek ondersteun die beginsel waarop onderrig by Volkskool Orania plaasvind ten volle.

Hou so aan!

Volkstaatraadverslag: "Onderwys in die lig van die selfbeskikkingstrewe van Afrikaners." Opgestel deur mev Anna Boshoff.

Die navorsing oorweeg maatstawwe vir alternatiewe onderwysmodelle en dan die beskikbare modelle self. Kenweb se model word dan bespreek en aangedui as die gewensde oplossing.

Die Volkstaatraad is 'n statutêre liggaam wat die moontlikheid van 'n volkstaat vir Afrikaners navors asook die strukture wat daarvoor tot stand moet kom. Afskrifte van die verslag kan by 053-2070161 verkry word.

Kommentaar deur dr. E Paul Torrance van die VSA

Dr E Paul Torrance, wêreldbekende opvoedkundige wat spesialiseer in kreatiwiteit, moedig mnr en mev Van den Berg tydens hulle besoek aan hom in die VSA, aan om voort te gaan met die ontwikkeling van die stelsel. Hy sê: "You will note that few think as far as you do." Dr Torrance is die opsteller van die bekende Torrance-kreatiwiteitstoetse wat wyd in Suid-Afrika en oor die wêreld gebruik word.

 

____________________________________________
Navraag | Gebruiksvoorwaardes | Jaarprogram