Antwoorde op vrae wat dikwels gevra word - die nuutste antwoorde word bo-aan bygevoeg:
My ontsluitingskode werk nie meer nie?
As Kenweb se handboeke en rekenaarprogramme (behalwe aanvangsonderrig) op die ou leergange gebaseer is, sal daar dele wees wat al verouder het. Hoe gemaak?
Dis nogal verbasend hoe min inligting regtig verander het. Maar aspekte soos die ou provinsies verg ouers se aandag. Gelukkig is die ou leergange so inhoudryk teenoor die nuwe leergange dat heelwat uitgelaat kan word voordat dit 'n probleem meebring. Vir Kenwebinligting wat verouder het, stel ons twee werkswyses voor.
Dit is vinnig om verouderde dele in die handboeke op te spoor. Trek dan op die doelwitvel van die spesifieke vak die gedeelte wat verouder het dood sodat die rekenaarvrae nie gedoen hoef te word nie.
Indien dit belangrike werk is, kan dit as 'n werkopdrag vir die kind gegee word om uit te vind wat verouder het, wat die korrekte inhoud is en hoekom dit verander het. Ons kinders sal veel meer as ons te doen kry met verandering en ons moet hulle daarvoor voorberei.
Ouers moet egter bedag wees op aspekte wat in die nuwe leergange bygevoeg is. In party grade is "vakke" bygevoeg soos Lewensorientering. In sommige "vakke" is nuwe temas bygevoeg. Sommige werk is heringedeel sodat dele daarvan nou by onverwagte leergareas tuiskom.
Wie of wat is Eduleap?
Eduleap Limited is 'n sustermaatskappy van Kenweb in Nieu Seeland wat ook aan Andre en Elizabeth behoort. Eduleap ondersteun Kenweb deur infrastruktuur te verskaf en dra daartoe by dat pryse so laag gehou kan word.
Wat is Kenweb se standpunt oor Kurrikulum 2005?
Kenweb se hulpmiddels is ontwikkel vir die kurrikulums VOOR K2005. Dis afgeronde, bewese produkte. Dit kan ook naas 'n feitekennis 'n stel vaardighede ontwikkel, onder meer dryfkrag, kreatiwiteit, ondernemerskap en sosiale vaardighede. Die vaardighede word ontwikkel omdat die student meer as in klassieke skole verantwoordelikheid neem vir eie vordering en effektiwiteit - tipiese omstandighede wat ondernemersvaardighede ontwikkel.
Wat gemaak met ondersteuningsgroepe en saamtrekke?
Met groot trots en dankbaarheid kan ons hier die twee steunpilare van tuisonderwys in SA aanbeveel om aan die behoefte aan ondersteuningsgroepe, saamtrekke en tuisonderwys-inligting te voldoen. Sluit gerus by hulle aan - dis nie moeite werd.
1. Curamus - Vereniging vir Tuisonderwys. (http://pestalozzi.org/curamus) Hulle het 'n internetposkring waarop ouers kan inteken (stuur 'n leë epos aan tuisonderwys-subscribe@yahoogroups.com) en heelwat gesoute ouers wat graag help. Op die poskring word projekte soos kampe, sportbyeenkomste en inligtingsessies ook geadverteer. Dis 'n gemenebes vir tuisonderwys wat selfs internasionaal onder die bestes tel. Kenwebouers kan gerus oorweeg om aan te sluit.
2. Pestalozzi Trust. (telefoon 012 3301337, http://pestalozzi.org/) Die trust beskerm die regte van ouers en kinders in tuisonderwys. Hulle doen moeite om ouers vooraf te help om reg op te tree. Indien daar dan probleme ontstaan, het hulle die regskundigheid om ouers by te staan en hulle regte effektief te beskerm. Sluit gerus ook hier aan en beleef gemoedsrus.
Aan watter spesifikasies moet 'n rekenaar voldoen om Kenweb se eie programme te kan hanteer?
Minstens Pentium, minstens WindowsXP, CD-speler, 50M spasie op die vaste skyf, minstens 1G geheue. Die bedryfstelsel "WindowsXP Starter Edition for Africa" word nie ondersteun nie.
Moet 'n ouer wat Kenweb se hulpmiddels wil gebruik, opleiding kry?
Dit word sterk aanbeveel vir mense wat die volle voordeel van Kenweb se gevorderde Selfgedrewe-onderwys wil benut. Kenweb het sy gewilde weekkursus omskep in 'n rekenaarpakket wat ouers en onderwysers self tuis kan doen. Ons noem dit die Begeleiersopleiding pakket.
Waarvoor word Rekenaarwiskunde Kombinasies gr 1-7 gebruik?
Hierdie rekenaarprogram oefen die kind in basiese syfervaardighede. Saam met "Ken jou tafels" gee dit 'n kind die vermoë om akkuraat en vinnig basiese berekeninge te doen. Die twee programme behoort eintlik elke jaar tot matriek gedoen te word om die vaardighede skerp te hou.
Is julle Wiskunde-verskaffers betroubaar?
Kenweb verskaf saam met sy graadpakkette 'n handboek en vakgids vir Wiskunde. Indien u meer verlang kan Wiskunde rekenaarprogramme kry by partye buite Kenweb. Hulle besonderhede word op ons webwerf en pryslys verskaf. Hoewel Kenweb nie ander ondernemings se produkte kan waarborg nie, het ons groot waardering vir die produkte van ondernemings op ons lys.
Watter leergange dek julle?
BELANGRIK: Behalwe vir gr 1, 2 en 3 is ons produkte ontwikkel vir Suid-Afrika se vorige, inhoudryke leerplanne. Voldoening aan spesifieke kurrikulums van spesifieke lande is die gebruiker van ons hulpmiddels se verantwoordelikheid. Vir byvoorbeeld voldoening aan uitkomsgebaseerde leerplanne soos K2005 van SA mag weglating, aanpassing of aanvulling nodig wees.
Wat behels die voorbereidings wat gemaak is vir eksperimente ens. wat ons nie kan doen nie a.g.v. beskikbaarheid van laboratorium toerusting?
In ons vakgidse het ons kontakbesonderhede vir die mense wat die miniatuurstelletjies beskikbaar stel. Dis bekostigbaar en noodsaaklik vir goeie onderwys.
Is dit nodig vir handboeke of kan mens net met die rekenaar werk regkom?
Handboeke vir elke kind, is 'n belangrike, integrale deel van die stelsel.
Het u wiskunde rekenaarprogramme beskikbaar?
Kenweb het handboeke en vir meeste grade onderwyserhandleidings vir die spesifieke handboek beskikbaar maar nie rekenaarprogramme nie. By die ander produkte verskaf ons kontakbesonderhede vir verskaffers van Wiskunde programme.
Ons het geen 220V krag nie - hoe gaan ek sonder rekenaars regkom?
Om die stelsel effektief te gebruik het julle ongelukkig 'n rekenaar nodig.
My seun kan nie onafhanklik werk nie. Sal hy by die sisteem baat ?
Ja, mits u Kenweb se begeleieropleiding doen om beter te weet hoe om die situasie te hanteer. Ons ervaring is dat kinders wat nie onafhanklik kan werk nie juis die meeste baat by ons stelsel omdat dit 'n vaardigheid is wat hulle in hulle toekoms nodig het vir die werkplek.
Ek wil asseblief inligting hê in verband met Graad 1 se programme.
In die Gr1 Rooigids gee ons 'n spesiale program vir die die eerste 10 weke en riglyne oor hoe die volgende vakke aangebied word met 'n duidelike aanduiding wat elke week afgehandel moet word: Afrikaans en Lewensvaardighede, Afrikaans lees, Bybelonderrig, Engels, Klanke aanleer en Spelling, Kunsopvoeding, Liggaamsopvoeding, al die rekenaarprogramme vir die rekenaarhalfuur, Skrif en Wiskunde. Daar is ook doelwitvelle vir elke vak aangeheg wat vir elke kind afgedruk kan word, om sy vordering op aan te dui. Naas die program is daar ook in die boek 'n voorgestelde dagprogram, beplanningsvorm vir die kind en inligting oor die evaluering van kinders aan die einde van 'n kwartaal en die jaar. Die Rooigids en ander boeke word afsonderlik van die Gr1-CD met rekenaarprogramme aangekoop. Die lys boeke verskyn op Kenweb se pryslys.
Bied u matriek aan?
Nee, Kenweb bied nie gr 12 aan nie. Ook nie gr 10 en 11 nie. Onder spesiale omstandighede kan ons help met aanvullende aspekte. Skakel direk met ons kantoor daaroor.
Ons ervaar dat kinders wat tot gr 8 of 9 met Kenweb se stelsel gewerk het soveel grondliggende vaardighede aangeleer het dat hulle in byna enige ander stelsel kan presteer.
Is u dienste (rekenaarprogramme, vakgidse, eksamens en ouer/onderwyseropleiding) ook in Engels beskikbaar?
Ons werk by Kenweb het begin omdat daar by Afrikaanssprekendes 'n groot behoefte aan ondersteuning in onderwys bestaan het. Dus is alles ongelukkig net in Afrikaans ontwikkel en beskikbaar. Die internet het 'n ongelooflike hoeveelheid selfs gratis Engelse hulpmiddels.
Hoe word die verbale vaardighede van kinders (bv. stelwerk, mondelinge, ens.) bevorder en geevalueer?
Dit val onder die praktiese aspekte van vakke wat deur 'n begeleier gedoen moet word. Kenweb se vakgidse het die besonderhede en die begeleiersopleiding rus u ook daarvoor toe.
Kan ek asb. 'n lys met kontakpersone en -nommers kry van al die skole wat van KENWEB (gedeeltelik of in sy geheel) gebruik maak, sodat ons ook van daardie skole kan besoek en dalk ook daar kan kers opsteek?
Ons beskerm al ons kliente se privaatheid omdat soms jag gemaak word op mense wat tuisonderwys doen. Dus kan ons ongelukkig nie inligting deurgee nie al kan ons goed verstaan hoe dit u kan help.
Bied julle 'n volledige tuisskoolstelsel aan?
Ons produkte is bloot hulpmiddels vir begeleiers om hulle doelwitte te bereik. In geen opsig maak ons aanspraak daarop om volledig aan 'n spesifieke huidige leerplan te voldoen nie. Ouers en onderwysers moet dus self oordeel of die stelsel die doelwitte bereik wat vir hulle of die spesifieke kurrikulum belangrik is.
Ons hulpmiddels is omvattend en sluit die volgende in. Uitgebreide weekbeplanning, bypassende skoolhandboeke met rekenaarprogramme daarvoor, eksamens en ouer/onderwyseropleiding. Meeste hiervan kan afsonderlik aangekoop word.
BELANGRIK: Gr 1, 2 en 3 produkte voldoen aan die huidige leerplanvereistes. Ons ander produkte is ontwikkel vir Suid-Afrika se vorige, inhoudryke leerplanne. Voldoening aan spesifieke kurrikulums van spesifieke lande is die gebruiker van die produkte se verantwoordelikheid. Vir byvoorbeeld voldoening aan uitkomsgebaseerde leerplanne soos K2005 van SA sal weglating, aanpassing of aanvulling nodig wees.
Wanneer eksamens geskryf word, is daar 'n sertifikaat wat die kinders ontvang om te bewys dat hulle wel die kursus voltooi het?
Omdat begeleiers self die vraestelle by ons kry en die studente laat skryf, is ons nie by magte om enige sertifikate uit te reik nie. Van owerheidskant behoort die ouer se handtekening egter aanvaar te word.
Ek het 'n 16-jarige dogter in 'n spesiale skool, waar die onderrig swak is. Ek wil haar graag vanaf volgende jaar tuisonderrig gee. Kan u my asb raad gee?
In die breë gesien het ons heelwat kinders met spesiale omstandighede wat suksesvol met Kenweb se programme werk. Juis omdat hulle teen hulle eie tempo werk en werkhoeveelheid aangepas kan word, is dit so waardevol vir die kinders.
Omdat ons egter nie spesialiste met spesiale skool-kinders is nie, sal u self moet navors op watter vlak u kind moet inskakel. Deskundiges het al vir ons aangedui dat ons handboeke en rekenaarprogramme geskik is daarvoor mits dit oordeelkundig gebruik word.
Kenweb se begeleieropleiding sal hiervoor ook vir u waardevol wees.
Kan eksamenvraestelle gekoop word sonder om die ander hulpmiddels aan te koop?
Ja, ons het eksamens in Junie/Julie en November/Desember in elke vak. Vorige jare se vraestelle is ook beskikbaar. Memorandums word ingesluit.
Familie van ons het 'n gestremde kind waar 'n deeltjie van die brein nie ten volle ontwikkel het nie. Tans doen hulle tuisonderrig deur 'n Amerikaanse program, maar dit is alles in Engels. Sou so 'n kind u onderrig kan doen?
Daar is reeds verskeie kinders wat soortgelyke probleme het wat met ons programme werk - met groot vrug. Natuurlik kan ons niks waarborg nie.
Hy kan wel verstaan en leer, maar is net baie stadig en sal bv. miskien 2 jaar neem om sy graad 1 te doen. Is daar tyd aan u onderrig verbonde, of bepaal elke leerling sy eie tyd en skryf die eksamens wanneer hy gereed is?
Ons onderrigmodel is geskoei op individuele werk. Elke kind vorder teen sy eie tempo sonder dat tyd 'n bepalende faktor is. (Begeleiersopleiding vir ouers is beskikbaar om die stelsel effektief te kan gebruik.)